Maaltydbeplanning en Inkopies op Die 28 Dae Eetplan

Die fundamentele element van hierdie dieet is die kos – dit is immers ‘n EETplan. Voorbereiding van maaltye is die sleutelfaktor wat jou motivering en toewyding tot die plan bepaal.
Veral omdat die dieet bestaan uit ‘n voorafbepaalde spyskaart, is dit belangrik om jouself van twee dinge te vergewis:

Die reëls en beginsels oor presies hoe die maaltye voorberei mag word, wanneer jy moet eet en watter geurmiddels toelaatbaar is om optimale resultate uit die plan te verkry.

Hoe om die toelaatbare bestanddele slimmer en meer effektief te gebruik om te verseker dat jou etes smaaklik, uniek en interessant bly.

Boublokke van maaltyd voorbereiding

Die volgende terme vorm die boublokke van maaltyd voorbereiding op Die 28 Dae Dieet, so dit is belangrik om dit te verstaan om die plan beter toe te pas.

Kategorie

  • Definisie Die verskeie spyskaart items wat Dag 1 tot 28 uitmaak.
  • Voorbeeld Graankos & Melk, Hoender & Groente, Droë Vrugte
  • Implementasie Hierdie items is vaste items en verander nooit. Kategorieë is NIE bestanddele/maaltye/resepte nie.



Maaltyd

  • Definisie Die dis wat jy verkies om voor te berei vir elke gegewe kategorie.
  • Voorbeeld Hawermout, Hoender sosaties, Droë vrugte stafies
  • Implementasie Maaltye wissel van persoon tot persoon, en kan verskil elke keer wanneer die ooreenstemmende kategorie op die plan voorkom.

Resep

  • Definisie ‘n Formele samestelling van die manier hoe maaltye op Die 28 Dae Eetplan
  • voorberei moet word.
    Voorbeeld Spesifieke formaat bestaande uit meetbare bestanddele en chronologiese stappe om te volg ter voorbereiding van maaltye, naamlik: Titel, Bestanddele, Metode
  • Implementasie Alle resepte word binne die grense van toelaatbare en ontoelaatbare riglyne, bestanddele en voorbereidingsmetodes van die plan saamgestel.


Wat is maaltydbeplanning?

Maaltydbeplanning is eenvoudig om vooraf te besluit wat jy gaan eet. Die klem is op die feit dat jy hierdie besluit neem ‘n paar dae, ‘n week of selfs ‘n maand voordat jy die beplande maaltyd sal geniet – en daarvolgens beplan sodat die voorbereiding makliker en vinniger sal geskied.

Maaltydbeplanning speel ‘n groot rol in die bereik van optimale gesondheid en gewigsverlies. As jy nie ‘n plan het vir wat jy gaan eet nie, mag jy dalk net gryp na watokal beskikbaar is en die risiko loop om die verkeerde bestanddele te gebruik of smaaklose maaltye voor te berei – of jy kan besluit om die maaltyd geheel en al oor te slaan en jou dieet te stop.

Dit beteken dan dat al jou gewigsverlies pogings tot niet gemaak sal word en jou gesondheid daaronder sal lei.
Jy kan vooraf beplan, inkopies doen en die maaltye maak soos wat jy dit benodig; of jy kan dit een stap verder neem en jou maaltye vooraf maak en vries tot nodig.


Voordele van maaltydbeplanning

Daar is baie voordele verbonde aan maaltydbeplanning, oor die algemeen en op die plan. Dit help jou om goeie eetgewoontes te skep en daarby te hou.

Spaar Tyd

Wanneer etenstyd naby is kan jy, in plaas daarvan om doelloos voor die yskas te staan en eers te probeer uitpluis watter van jou bestanddele gepas is vir die volgende ete op die spyskaart, net jou beplande maaltyd begin voorberei.

As jy dit vooraf gaargemaak en gevries het, spaar jy ook tyd met die opwas en opruim na die kookproses.

Spaar Geld

Almal kan saamstem dat geld spaar iets is wat ons almal probeer doen, en dat maaltydbeplanning ‘n uitstekende manier is om dit reg te kry.

Behalwe dat jy geld spaar deur nie so gereeld by restaurante te eet nie, behels die beplanning van etes ook die koop van artikels in grootmaat, wat ‘n groot geldbesparing kan wees.

As jy hou by wat op die lys is, vermy jy ook impuls-koop by die kruidenierswinkel.

Vermy Vermorsing

As dit kom by maaltydbeplanning gaan winkels toe met ‘n plan en weet jy reeds hoe jy al die kos op die lys gaan gebruik.

As elke item ‘n doel het, hoef jy nie bekommerd te wees dat daar kos in jou yskas gaan wees wat moontlik gemors sal word nie.

Hoe om jou maaltydplan saam te stel

Noudat jy weet wat maaltydbeplanning is en hoekom dit belangrik is, kom ons neem jou stap vir stap deur die proses om presies te weet hoe om dit te doen.

1. Verdeel die plan in 4 weke van 7 dae elk.

Skryf die spyskaart vir die eerste 7 dae neer, uiteengesit tussen ontbyt, middagete en aandete.

2. Besluit op resepte.

Kyk na die toelaatbare bestanddele, porsies en geurmiddels vir elke kategorie en besluit op ‘n paar resepte wat jy kan gebruik. Kies een resep vir elke maaltyd. Hierdie dokument vorm dan jou maaltydplan.

Jy kan jou eie resepte saamstel of een van die smaaklike resepte in die plan se resepteboek kies. Onthou om jou persoonlike voorkeure, die tyd tot jou beskikking, sowel as jou toegang tot bestanddele in gedagte te hou.

Baie van die kategorieë op die plan word herhaal, soos Joghurt & 1 Vrug en 1 Aartappel & 1 Groente. Onthou dus om ‘n verskeidenheid resepte te kies, sodat jy nie verveeld raak daarvan om dieselfde maaltyd vir dieselfde kategorie te eet nie.

3. Stel jou inkopielys saam en kry jou bestanddele.

Gebruik jou resepte om jou inkopielys saam te stel en doen jou inkopies daarvolgens.

4. Berei jou maaltye voor.

Daar is verskillende maniere om jou maaltyd voorbereiding te doen. Kies dus die metode wat die beste by jou roetine en leefstyl pas.

As jy ‘n werkende persoon is kan jy besluit om al jou maaltye oor naweke te kook sodat jy die verskillende etes maklik deur die week kan gryp.

Alternatiewelik kan jy kies om daagliks te kook, in welke geval jy dan die individuele bestanddele (bv. die kap en skil van groente, skoonmaak en opsny van hoenderborsies ens.) voor die tyd kan voorberei.

5. Eet die regte maaltyd.

Maak seker dat jy altyd die plan byderhand hou. Maak seker dat jy die plan in meer as een plek bêre. Die laaste ding wat jy nodig het is om by die werk te wees en nie te onthou wat jy veronderstel is om te eet nie.

Jy kan vir jouself ‘n yskaskaart maak met die eetplan spyskaart, of ‘n sleutelring wat gerieflik aan jou sleutels hang, of selfs ‘n digitale spyskaart of app op jou selfoon laai.

Inkopielys

Behalwe vir die feit dat inkopies belangrik is om te verseker dat jy wel die korrekte bestanddele het, is dit ook belangrik om te weet hoe om slim te koop.
Deel van maaltydbeplanning is om ook jou inkopies by die roetine in te pas. Die laaste ding wat jy nodig het om jou dieetbus van koers af te lei is om nie genoeg bestanddele in jou kombuis te hê nie.

Samestelling van inkopielys

Wanneer jy jou inkopielys saamstel, maak seker dat jy AL die bestanddele wat in jou resepte voorkom op die lys plaas. Dit is moontlik dat jy jouself kan misgis met watter produkte jy reeds in jou koskas het en watter nie.

Sodra die lys saamgestel is, maak seker dat jou hoeveelhede korrek is. Maak seker jy het genoeg joghurt, hoenderborsies ens., maar ook dat jy voorsiening maak vir die korrekte hoeveelhede speserye en geurmiddels.

Gaan dan jou kombuis en spens na om vas te stel watter van die items jy reeds het en verwyder dit vanaf die lys.

Strukturering van inkopielys

Om tyd en geld te spaar, asook om te verhoed dat jy van jou dieet afwyk deur ongesonde versnaperinge en gaskoeldranke in jou mandjie gooi, maak seker dat jou inkopielys gestruktureer is volgens die tipiese uitleg van kruidenierswinkels – en dat al dieselfde kossoorte saam op die lys verskyn.

Groepeer die bestanddele op jou lys volgens departemente of gange (groente, suiwel, bevrore items, ens.), sodat jy meer doeltreffend kan koop.

Hoe om slim inkopies te doen

Verkies die buitenste rakke

In die buitenste gange en rakke van die kruidenierswinkel vind jy die varsste, minste verwerkte kos: vrugte, groente, vleis, vis, suiwel en brood.

Volgens die plan sal die meeste van jou voedsel in hierdie rakke gevind word, maar moenie te veel tyd in die middelste rakke spandeer nie.

Hou by jou lys om te keer dat jy doelloos deur die winkel dwaal en items koop wat jy nie nodig het nie of wat nie die gesond is nie.

Soek seisoenaal

Vrugte en groente wat in seisoen is, is gewoonlik meer voedsaam, volop, smaakliker en goedkoper as dié wat buite seisoen is. Kies seisoenale items as jy selfs nog meer wil spaar.

Een wenk om in gedagte te hou wanneer jy inkopies doen is: Moenie nou koop as jy nie later verlei wil word nie.

Hierdie wenk klink voor die hand liggend, maar dit is maklik om te vergeet. Dink aan watter kosse jy geneig is om te veel te geniet. As jy nog nie genoeg motivering opgebou het weg te bly van jou gunsteling sjokolade nie, is dit beter om dit vir eers glad nie te koop nie.

Hou dit eerder buite die huis totdat jy jou rondte voltooi het en beter selfdissipline ontwikkel het om versnaperinge in matigheid en verantwoordelik te geniet.

As jy net hierdie twee dinge (maaltydbeplanning en inkopielys) doen, en goed doen, is dit genoeg om jou die meeste sukses op die plan te gee.


Kliek hier om die generiese inkopielys af te laai