Die 28 Dae Eetplan Resepte
Om gesond te eet en gewig te verloor behoort glad nie vervelig, ingewikkeld of duur te wees nie. As jy werklik uitsien na elke dis, sal jy die 28 dae kan voltooi? Ons dink ook so. Wanneer jou kos lekker is vergeet jy dat jy op ‘n dieet is.
Idees om resepte uit te dink
Wanneer dit kom by resepte is dit noodsaaklik dat jy binne die raamwerk van Die 28 Dae Dieet bly vir optimale gewigsverlies.
Hier volg ‘n paar wenke om jou te help om jou eie resepte saam te stel.
Verstaan die beginsels
‘n Goeie begrip van die reëls en beginsels van maaltyd voorbereiding op die plan is definitief ‘n aanwins as dit kom by die samestelling van jou resepte.
Dit is egter nie ‘n vereiste nie. Al wat dit beteken is dat jy net ekstra fyn beplanning sal moet doen om te verseker dat daar nie ‘n fout insluip nie.
Benut bestanddele ten volle
Vir elke maaltyd, dink aan elke potensiële bestanddeel wat jy mag gebruik; sowel as die bestanddele wat jy tot jou beskikking het.
Maak seker jy gebruik genoegsame geurmiddels, in matigheid, om die smake van jou disse op te kikker. Die verskil tussen pietersielie en salie in jou resep kan ‘n groot verskil maak in kwaliteit van die eindproduk.
Raak kreatief
Dink aan meer as een kookmetode om jou disse voor te berei – of verander die tradisionele manier waarop sekere kossoorte gaargemaak word.
In plaas daarvan om vaal, gestoomde vis te eet, probeer eerder om die vis met jou gunsteling speserye, ‘n titseltjie Tabasco sous en ‘n suurlemoenskyf te geur en dan in foelie in die oond te bak. Liplek-lekker!
Hoe resepte moet lyk
Die doel van resepte is nie net om jou maaltye interessant te hou nie, maar ook om tyd te bespaar. Jy moet dus verseker dat jou resepte die standaard uitleg volg.
Gebruik ‘n templaat om te verseker dat jou al jou resepte elke keer dieselfde uitleg volg en dat jy nie vergeet om iets in te sluit nie.
Titel
Gee jou resep ‘n naam. ‘n Goeie titel is tussen 2 en 6 woorde lank en dui op die inhoud van die resep of die eindproduk.
Kategorie
Om dit makliker te maak om resepte op ‘n latere stadium te vind, is dit ‘n goeie idee om ‘n aanduiding van die dieet kategorie by te voeg.
Bestanddele
Lys die bestanddele in die volgorde waarin dit in die resep gebruik word, of volgens die belangrikheid van bestanddele.
Gebruik kolomme om te verseker dat dit maklik lees.
Sluit ál die bestanddele wat benodig word, in. Moenie klein items soos sout, peper of water uitlaat nie – jy gaan dalk nie volgende keer onthou wat en hoeveel van elk gebruik moet word nie.
Metode
Hierdie is die belangrikste stap. Skryf alles neer wat jy moet doen om die bestanddele tot die finale produk te verwerk.
Dui die hitte aan by aanwysings vir die stoofplaat (bv. “Laat prut oor lae hitte”) en sluit gaarmaaktye in (bv. “Braai 1 minuut aan elke kant”).
Verdeel elke stap in ‘n nuwe paragraaf. As jy droë bestanddele in ‘n bak meng, gebruik dan een paragraaf vir al die instruksies vir die stap.
Eindig met opdieningsinstruksies, byvoorbeeld watter temperatuur om te bedien of hoe om dit te garneer.
Hoe om resepte te liasseer
Nadat jy so hard gewerk het om jou resepte saam te stel is dit ‘n goeie idee om alles op een plek te stoor, byvoorbeeld in ‘n notaboek of lêer.
Net omdat jy op ‘n dieet is beteken dit nie dat jou lewe stilstaan nie; spoed en gerieflikheid is definitief jou vriend wanneer jy na ‘n resep soek.
Wees kreatief met die liassering van resepte deur die gebruik van kleur om verskillende kategorieë aan te dui.
Indien moontlik, neem foto’s van jou disse en druk dit uit om dit in te sluit by jou 28 Dae Dieet resepte versameling.
Om gewig te verloor en gesond te wees was nog nooit makliker of lekkerder nie, danksy ‘n groot verskeidenheid van smaaklike resepte in Die 28 Dae Eetplan Resepteboek.
Voorbereiding is maklik en eenvoudig en sonder ‘n lang lys bestanddele of ingewikkelde metodes.